Ek lees graag Kindle eboeke. Die rede daarvoor is dat ek baie van lees hou. Nie sommer net enige boeke nie. Maar boeke met ‘n hart in. Boeke wat lank nadat ek dit klaar gelees het, nog ‘n impak het op my gedagtes en selfs my lewe.
Die rede ook waarom ek toe besluit het op Kindle eboeke is omdat dit soveel goedkoper is as enige ander boek met ‘n hart. Ek het al soveel harde- en sagteband boeke dat ek nie meer weet wat om met hulle te doen nie. Ek het al probeer verkoop, weggee en sommer net op die rak los maar die huis groei ongelukkig nie saam met die versameling boeke nie.
Met eboeke is dit so maklik. Op my rekenaar is die kindle app (toep in afrikaans) wat ek gratis afgelaai het van Amazon se webblad. Ek het ook die toep vir my Andriod Samsung tab en dan het ek ook ‘n Kindle reader. So al wat ek doen is, ek sinkroniseer al drie en dan is al die boeke met die boekmerk dadelik tot my beskiking.
Dit klink baie oordadig maar dit is nie regtig nie. Dit maak dit net soveel makliker. Want ek is mos lief vir lees. As ek saamry dorp toe en ek wag ‘n ruk in die motor dan is of my tab of die kindle by my. As ek voor die rekenaar is dan kan ek vinnig die toep vir Windows oomaak en die boek lees want die boekmerk word opgedateer.
Ek het vandag ‘n eboek afgelaai vir gratis en verniet waar ek kan sien waar kan ek nog gratis eboeke kan aflaai en lees. Ek kan dit amper nie glo nie. Nog gratis boeke – wel ek gaan defnitief nie kla nie. Ek het al 355 boeke op my rekenaar waarvan ek seker nie 10 gekoop het nie. Vir iemand wat van lees hou en dan ook nog kan kies watter boeke gratis afgelaai kan word is dit mos net soos ‘n droom.
MAAR drome is ook mos drome. Die een waarheid wat daar is, is dat ons Afrikaanse boek nie in die klas val nie. Nie eens bietjie goekoper nie. Nee, volle prys!!! Die gevolg is dat ek nie meer Afrikaanse boeke lees nie. Ek het wel die afgelope week die boek van Esta Steyn afgelaai by Kalahari maar ek sukkel met die toep wat die eboek leesbaar op my Samsung tab maak. So ek keer weer terug na die Engelse boeke waar ek kan kies en keur watter boeke ek wil lees en dan kan ek nog gratis boeke ook aflaai.
Ek wens so ek kan die antwoord hiervoor kry. As daar dalk iemand is wat die rede weet stuur dit asb vir my. Dalk verstaan ek dan! Ek wonder of dit nie ook gaan oor geld nie. Heel moontlik. Ek ken die storie ……. Niks is verniet in die wêreld nie en die skrywers en die uitgewers en die …………. moet kan lewe.
MAAR as hulle die boeke goekoper aanbied sal meer mense nie die eboeke koop nie. Dit is soos wat ek redeneer. Want ek sal defnitief net afrikaanse boeke koop as hulle ook in plaas van R100 liewer R30 of selfs R25 kos. Ek het ‘n lang lys van afrikaanse boeke wat ek so graag wil lees. In my volgende blog sal ek die lys neerskryf. Asook die lys van boeke wat ek sover gelees het en dit in my hart bêre.
Boeke groete in engels en in afrikaans!!
Elmari Potgieter